Ek is net so ná die draai van die negentiende eeu gebore, Susanna Magdalena, na my ma se ma vernoem, en was toe alreeds in die eerste helfte van my tagtigs toe hierdie ding ons oorkom.
As ’n vrou jonk is, is mens beskeie oor hierdie onderwerp. Die ouderdom. Mens bly maar beskeie. Maar nou, op my ouderdom, is ek ook dankbaar en nogtans trots daarop. Twee en tagtig, dankie, en met ’n helder verstand geseën.
Ek het geglo dat in my leeftyd ek aan alles gewoond sou raak. Van ossewa tot mense op die maan. Die Beatles. En die minirok. En toe kom die jaar ses en tagtig. Niks kon my hierop voorberei het nie. Ons kom te staan voor die laaste van die Groot Gevare. Die Swart Gevaar!
“Die land is aan die brand,” sê hulle al vir die laaste jaar.
Al wat ek kan sê, is: “Ek het hierdie een van sy begin af sien kom.” Dit was die drie Groot Gevare. Die Rooi, die Roomse en dan nou hierdie een.
Ons is op ’n dieet van Gevaar grootgemaak – om alles te vrees in die hemel en hier op aarde – en net so het ek dit lepelsvol vir die kinders ingegee en hulle op hulle beurt vir my klein- en agterkleinkinders.
Jy kon dit orals kry. Met die Gevaar kom die vrees. Dan knyp jy maar jou oë en jou hart toe, en bid dat jy alleen uit genade sal oorleef en heelhuids anderkant sal uitkom.
As jy nie midde-in hierdie vrees sit nie, sal jy dit nie maklik kan verstaan nie. Dis al wat jy kan sien met die oogklappe wat vir jou aangesit word deur hulle wat die vrees aan-wakker.
Al die verhale. Almal het skielik ’n storie. Die Katolieke het mens nog altyd bejammer vir die hel wat vir hulle voorlê as prys vir hulle dwaalleringe, en die Rooies was volgens Heinz Konsalik meestal in Rusland en daar is ’n spioen op elkeen se spoor. Die marteling van die gelowiges en die verbanning van die Boek was op die hele wêreld se lippe.
Almal is ewe bang vir die donkerte van die katakombes.
Vanaand slaap die hele wêreld met een oog oop.
Hulle wou, soos nou, ons vryheid en geloof kom wegvat, is ons wysgemaak. “Ons vryheid! Ons geloof ! Ons goed, ons huise, ons karre. Hulle wil net hê-hê-hê! Geld. Stemreg. Alles!” word jy nou mee gebombardeer. En snags begin jy te kou aan die lakens.
En dan is ons nog Godvresende skepsels, boonop!
Sela.
Maar.
“Daar is ’n paar Kommies los onder die plurale,” of wat ons hulle nou ook al in hierdie stadium noem, “en hulle raak onrustig,” word daar gefluister. Die wittes se nekhare staan orent. En met die nekhare, en die orent, kom die laer. Dis wat ons doen. Ons trek laer. Met ’n laer, ’n paar Sannas en ’n verbond het ons hulle al voorheen oorleef. Net mooi daar en dan het ons ons eie geskiedenis begin skryf. Die ding met ’n laer is dat wat binne is, is binne. En hoort daar. Enigiets wat van buite af aankom, lyk soos ’n aanslag. Nog ’n Gevaar. Hemel behoed ons. En ons trek los. Ons verdedig. So kry ons selfs ons eie onder skoot. Dis omdat mens later nie verder as die wakap kan sien nie.
En dan eendag gebeur dit hier reg onder jou neus.
Jy sien dit, maar jy weet nie waarna jy kyk nie …
... Ester was aan die popspeel terwyl sy vir Paul gesit en wag het. Dit pla haar nie dat hy laat is nie. Dis deel van wat hy doen. Sy wegtyd is haar vryheid.
Maar nie vanaand nie.
Want as ’n geluid mens se aandag so in die stilte getrek het, en jy begin luister, word dit al hoe harder tot dit al is wat mens hoor. So was dit met die kleintjie se geskree. Eers veraf en nou in haar kop. Dit skree later Emily se “Mies Ester, mies Ester, pas my kind op” dood.
Sy verloor haar eie wil en volg die geluid.
So is sy die agterdeur uit, die koue in sonder ’n trui. Op haar sokkies is sy oor die agterplaas en sy steek voor die Xele’s se kamer vas. By die deur staan sy stil en luister. Sy is bang haar verbeelding is met haar op hol.
Toe sy seker is, klop sy saggies.
Niks roer nie. En die geskree hou nie op nie.
Sy stoot die deur versigtig oop.
Op die naat van sy rug lê Amos met die kind in sy arm.
Hy’s uit vir die aand. Die kind skree reg in sy oor en hy bly doof. Met die drank saam is hy elders.
Sy tel die geskree liggies op. Haar aandag bring hom tot rus.
Sy’t die Mazda nie eers hoor kom nie.
By die agterdeur loop sy haar teen Paul se donderweer vas.
“Wat makeer jou, Ester!” soek Paul duidelikheid toe Ester met die kind by hom verby is.
“Kyk,” en Ester steek hier vlak by my deur vas. Sy voel in haar rug, dat hy vir haar kyk.
“Die enigste ding wat my makeer is dat ek nie langer na die kind se getjank kon luister nie,” sê sy duidelik genoeg vir my onthalwe ook.
Sy draai om. Sy sien kans vir sy oë.
Ester se krag lê in kort sinne.
“Het jy vergeet van Veronica?” vra sy.
So met die kind in haar arms mik sy in die rigting van die slaapkamer. By die deur draai sy weer om en loop hom trompop.
“Ek het al voorheen vir jou gesê, en voor God gesweer, dat hierdie ding nie weer naby my of in my huis sal gebeur nie.” Dit is haar selfversekerheid wat vir haar die krag gee.
“Jy kon niks daaraan doen nie, Ester.”
Paul besef hy staan by ’n sinkgat.
“Daar was baie wat ek kon gedoen het as ek nie my ore ge-sluit het vir haar kleintjie se gehuilery nie. Ek moes geweet het daar’s fout. Die kind het nooit opgehou nie. Maar ek het aanhoudend vir myself gesê sy’s maar net die bediende, sy’s swart, so wat maak dit saak?”
Daai tyd was Ester-hulle net so twee straatblokke van my af. Veronica het op ’n Saterdag met die wasgoed en vloere kom help. Sy’t nie ingebly nie.
Hierdie ding wou haar nooit loslaat nie.
“Jy het haar gevra wat makeer en of sy die kind al by ’n dokter gehad het. En?”
“Sy’t gelieg!”
Elke keer het Ester gevra of Veronica al die kind by ’n dokter gehad het, en die antwoord was altyd: Ja. Uit radeloosheid pak sy toe dié keer vir Veronica en die kind in die kar en ry dokter toe. Uit die ondersoek blyk dit toe dat die kind aan ondervoeding lei. Pleks van kos koop, het Veronica haar geld uitgesuip.
“Dis nie jou skuld nie,” sê Paul. Hy ken haar storie. Hy ken haar pyn.
Ester kyk net na hom. Sy skud haar kop uit moedeloosheid.
“Dis nie jou skuld dat sy al haar geld op drank uitgegee het nie.”
“Ek het dit geruik en niks gedoen nie.”
“Ek skryf al vir die laaste hoeveel jaar dat ons mense meer op drank as op rooivleis uitgee,” begin die joernalis in Paul die ding vir Ester uitlê. “Nege miljoen rand meer hierdie jaar as laas jaar. Drank is heel bo aan die inkopielys. En vyftig persent meer op twak in vergelyking met groente. Elke dag is daar miljoene kinders, hier, en wêreldwyd wat honger ly en ’n mens kan niks daaraan doen nie.”
“Ja Paul, ’n mens kan lees en skryf oor die miljoene, maar jy hoef net een te sien! Daai kind is drie dae later dood. Dit gaan nie hierdie een oorkom nie. Nie in dié huis nie.”
Sy dra die kind die kamer in en plak hom in die middle van die bed neer.
“Nooit weer nie!”
Paul se laaste woorde vir die aand sal lank nog in hierdie gang weergalm.
“Wie sou nou ooit kon dink dat daar eendag ’n kaffertjie tussen my en my vrou in die bed sou beland!”